NOORD-KAAP. – ‘n Babaseun (2 mnde. oud) se liggaam is Sondagoggend in ‘n veld naby sy ouerhuis op Kenhardt gevind nadat sy pa (29) glo tydens ‘n argument die baba in ‘n rugsak gesit en met hom die huis verlaat het.
Volgens sers. Omphile Masegela ondersoek die Kenhardt-polisie die baba se moord nadat die pa na bewering die baba van die ma weggeneem en die kind toe dood gevind is. Die ouers het glo Saterdagaand ‘n rusie gehad waarna die pa met die baba in die rugsak weg is.
Die polisie is ontbied en ‘n soektog is na die verdagte en baba geloods, waarna die baba se liggaam in die veld ontdek is. Die verdagte word tans steeds gesoek.
Enigiemand met inligting kan AO Elrich Minies op 060 984 3520 bel.





