MPUMALANGA. – Die liggaam van ‘n pasgebore baba is Sondagmiddag omstreeks 16:20 deur ‘n verbyganger op ‘n vullisstortingsterrein in Mjejane, naby Komatipoort, ontdek.
Kapt. Magonseni Nkosi sê die polisie is na die toneel ontbied waar die baba dood verklaar is. Weens die toestand van die liggaam kon die geslag nie bepaal word nie.
Komatipoort-polisie ondersoek die voorval en kan tans nie bevestig of die baba lewend of dood op die stortingsterrein gelos is nie.
Enigiemand wat inligting oor die baba se ma het, word gevra om sers. Vusimui Thobela by 072 196 8225 te bel. Inligting sal vertroulik hanteer word.
Genl.maj. Zepth Mkhwanazi het die onmenslike gedrag veroordeel en vra die gemeenskap om die polisie te help om die skuldige wat vir die baba se dood verantwoordelik is op te spoor.