VRYSTAAT. – ‘n Toyota Hilux-bakkie is Maandagoggend onderweg na Colesberg op die N1 voorgekeer. ‘n Vrag dagga van ongeveer R1.7 m. is op die bakkie ontdek.
Sers. Mahlomola Kareli sê Trombsburg-hoofwegpatrollielede het die bakkie met ‘n Gauteng-registrasienommer omstreeks 02:45 opgemerk en agtervolg. Die bakkie, met twee manlike insittendes, is veilig tot stilstand gebring. Lede het op 12 saamgeperste, verseëlde daggapakke op die bakkie afgekom.
Die twee verdagtes, 23 en 25 jaar, is op ‘n aanklag van handel in dagga in hegtenis geneem. ‘n Klag van bestuur sonder ‘n bestuurderslisensie is bygevoeg, aangesien die bestuurder van die bakkie nie ‘n lisensie by hom gehad het nie.
Beide sal op aanklagte in die Springfontein-landdroshof voorkom.





