OOS-KAAP. – Wyle Andries David Renken (87) ‘n bejaarde boer van Kirkwood, is deur Leonie Stella Stiemie (53) oortuig om geld in ‘n FNB Deeds Box te bêre. Stiemie is na sewe jaar aan diefstal van R400 000 uit die Deeds Box en R400 000 uit sy bankrekening skuldig bevind.
Luxolo Tyali, woordvoerder vir die NVG, sê Renken het gesterf voor die skuldigbevindinguitspraak en die oorspronklike staatsaanklaer het ook in 2021 gesterf, maar die Gqeberha- gespesialiseerde kommersiële misdaadhof het Stiemie uiteindelik op twee aanklagte skuldig bevind.
Stiemie was die voormalige bankadministrateur by FNB in Kirkwood toe sy vir Renken oortuig het om geld in die boks te bêre, aangesien hy gedink het dit is onveilig tuis. Renken het egter nie die twee sleutels vir die boks ontvang of ‘n ooreenkoms onderteken nie. In Augustus 2014 het Stiemie gesê sy het die helfte van die geld namens Renken belê. In Februarie 2015 het hy die tak besoek, maar Stiemie het nie meer daar gewerk nie. Stiemie het van die besoek by die tak gehoor en Renken tuis besoek waar sy beweer het die geld is in ‘n roof by die bank gesteel. Die teendeel het egter vorendag gekom.
Stiemie het aangebied om R666 per maand aan Renken terug te betaal, maar hy het as gevolg van die “duiwelse nommer” geweier. Sy het toe wel R21 000 terugbetaal. ‘n Handskrifdeskundige vir die staat het bevind die depositostrokie is vervals en deur Stiemie onderteken.
Tyali sê Stiemie het ‘n terugbetalingsooreenkoms ontken en gesê sy het destyds sterk medikasie gedrink. Renken is deur die hof as ‘n geloofwaardige getuie met die enigste waarskynlike weergawe van die gebeure bestempel. Die hofsaak het vir drie jaar gesloer omdat die verdediging die staat se weergawe wou weerlê.
Die saak is vir vonnisoplegging tot 11 Februuarie 2025, uitgestel. Stiemie is tot dan op R1 000 borg vrygelaat en moet twee keer ‘n week by Kirkwood-polisiestasie aanmeld, terwyl haar reisdokumente by die NVG ingedien is. Sy is ook gekeer om vir reisdokumente aansoek te doen.