OOS-KAAP. – Die Valke het Maandag suksesvol ‘n batebewaringsbevel vir voertuie en meubels ter waarde van R623 518 bekom. Die bevel spruit uit die inhegtenisneming van Funeka Malusi (56), ‘n senior regeringsbeampte en haar familie, in verband met beweerde grondeisbedrog in 2024.
AO Ndiphiwe Mhlakuvana, Valke-woordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits die bevel is deur die Oos-Londen- gespesialiseerde handelshof toegestaan. Die beskuldigdes het gedurende September en Desember 2024 in die Oos-Londen-landdroshof verskyn. Malusi is op borgtog van R30 000 vrygelaat en haar familielede op borgtog van R10 000 elk. Die strafsaak teen al elf beskuldigdes is tot 8 Julie vir die oorhandiging van afskrifte van die saakdossier uitgestel.
Die senior beampte was na bewering tussen 2017 en 2024 by grondeisbedrog betrokke. Sy het glo saam met haar familielede gewerk om bedrieglike eise goed te keur en dié onwettig by die departement van landelike ontwikkeling en grondsake in te dien. Volgens die ondersoek deur die Valke het die direkteur glo die betrokke dokumente vir grondeise goedgekeur en veranderinge aan ‘n lys van eisers aangebring deur die oorspronklike eisers se besonderhede met dié van haar familielede, insluitend haar huiswerker, te vervang. Verdere ondersoeke het bevestig dat geen van die wettige eisers enige betalings ontvang het nie, terwyl die beampte se familielede onregmatig betalings uit grondeise ontvang het. Hierdie kriminele optrede het die departement van grondsake met meer as R9.3 miljoen benadeel.
Die ondersoek van bateverbeuring het tot die uitreiking van die bewaringsbevel gelei. Die bevel verbied die gebruik van die bates.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com





