LIMPOPO. – Altesaam nege korrektiewediensbeamptes verbonde aan die Polokwane-gevangenis het Dinsdag op aanklagte van moord in die Polokwane-landdroshof voorgekom nadat ‘n gevangene na bewering aangerand is en aan sy beserings beswyk het. Die beamptes is elk op R1 500 borgtog vrygelaat.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê die saak is vir verdere ondersoek en ‘n streekhofdatum tot 21 Augustus uitgestel. Victor Ramoroka (52), Victor Seakamela (59), Lutendo Vele (41), Christopher Mafela (33), Micharl Ramabu (42), Anna Shai (41), Josephine Mphela (49), Obed Selolo (53) en Lucas Phihlela (54) het na bewering die oorledene gedurende Julie 2024 aangerand. Die saak is aangemeld en ‘n geregtelike doodsondersoek is deur die polisie geopen.
Nadat die resultate van ‘n nadoodse ondersoek beskikbaar gestel is, is die aanklag na moord verander. Vier werknemers van korrektiewe dienste is in Oktober 2024 in hegtenis geneem, waarna die saak teen hulle voorlopig teruggetrek is. Soos die ondersoek gevorder het, is die vier verdagtes weer aangekeer en nog vyf verdagtes is Maandag in hegtenis geneem.
Die polisie se ondersoek duur voort.





