Beheer jy jou gedagtes, of beheer hulle jou?

Lees ook :

Ek sal nou nie sê ek is die fluksste of mees konsekwente mens op aarde nie, maar wat ek wel van myself geleer het, is dat wanneer ek in my kop ‘n besluit gemaak het, sien ek dit deur, goed of sleg. As ek vir ‘n soetding lus kry en besluit om ‘n Bar One na werk te koop, dan sal jy hemel en aarde moet verskuif om my te keer om dit te doen. Maar later in die week besluit ek om vir 24 uur te vas, en al kry ek lus vir cheat, skuif ek dit net uit my gedagtes sonder veel teenkanting, want ek weet dis nie deel van die plan nie.

LEES MEER: Bereik jou drome deur tyd en konsekwentheid

Gedagtes is soos perde wat voor die wa ingespan is. As hulle begin loop, is dit nog maklik om hulle weer te stop. Maar as hulle eers op ‘n gallop gaan, neem dit baie moeite en baklei om hulle weer tot stilstand te bring, en dan eindig jy dalk by ‘n bestemming waar jy nie wou gewees het nie.

Hoeveel keer het jy al ‘n verkeerde gedagte gekry en daarmee gespeel? Hoe meer jy jou daarmee vermaak, hoe meer tyd gee jy jouself om redes uit te dink hoekom dit gedoen kan word. Jy sal altyd ‘n goeie rede kan uitdink om oor die streep te trap. En as jy dit genoeg tyd gee, dan raak dit al hoe moeiliker om die slegte idee te laat gaan en jy doen dit later. En raai wat? Spyt volg gewoonlik daarna! En dan vra jy jouself af: “Hoe het ek dit ooit toegelaat om so ver te gaan?”

Die oplossing vir hierdie probleem is redelik eenvoudig. Identifiseer wat jou probleemgedagtes is, want gewoonlik jaag ons dieselfde nonsens herhaaldelik aan, nè? En as jy weet watter gedagtes gaan na probleme lei, neem jouself net voor om hulle in die kiem te smoor as hulle kop uitsteek.  

As ek besef ek’s nou lus vir ‘n soetding, maar weet dat dit my nie sal goed doen nie, verwerp ek net onmiddellik die gedagte soos wat dit opkom. Moet dit nie kans gee om ‘n vastrapplek in jou gedagtes te kry nie!

Net so met die slegtes – stop daai perde net soos wat hulle wil begin loop.

Onthou, byna alles wat jy al in jou lewe bereik het, goed of sleg, het begin by ‘n gedagte wat jy later uitgevoer het deur ‘n aksie. As jy dus beheer kan uitoefen oor jou eie gedagtes en hulle gevange kan neem wanneer dit sleg is en die goeies kan gebruik tot jou voordeel, dan kan jy letterlik jou lewe verander!

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App