Bejaarde aangeval, twee verdagtes doodgeskiet

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

GAUTENG. – ‘n Bejaarde man (80) is Dinsdag in sy huis in Magalieskruin in Sinoville in die noorde van Pretoria aangeval. Twee verdagtes is in ‘n daaropvolgende stoeiery noodlottig gewond.

AO Johan van Dyk sê die bejaarde man en sy dogter het groente en vrugte verwerk om by die mark te verkoop. Sy dogter het omstreeks 06:00 gery, waarna hy sy honde hoor grom en blaf het. Hy is na sy kamer om sy vuurwapen te gaan haal, waarna hy sy honde geroep en ondersoek ingestel het. Hy het ‘n verdagte in een van die kamers teëgekom. Die verdagte het na bewering probeer om die vuurwapen by die bejaarde af te vat, maar hy kon daarin slaag om twee skote te skiet. Die verdagte het op die grond geval. ‘n Tweede verdagte het agter die bed uitgekom en glo die bejaarde man aangeval. ‘n Stoeiery het ontstaan, maar die bejaarde kon daarin slaag om nog ‘n skoot te skiet. Die verdagte het ook op die grond geval.

Die polisie ondersoek ‘n saak van huisroof en twee sake van geregtelike doodsondersoeke is geregistreer.

Die bejaarde man het tydens die voorval kopbeserings opgedoen en is na ‘n mediese fasiliteit geneem.

Bronne: SAPD

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App