VRYSTAAT. – ‘n Bejaarde man (66) en sy vrou (65) is Woensdagaand omstreeks 23:30 in hulle huis op ‘n plaas naby Ladybrand aangeval.
Sers. Mahlomola Kareli sê die egpaar het in hulle sitkamer gesit toe hulle ‘n geluid in die kombuis hoor. Vier verdagtes het glo die huis binnegegaan deur die veiligheidshek oop te breek. Die man is oor die kop geslaan, waarna die egpaar vasgebind en geblinddoek is.
Die verdagtes het kluissleutels geeïs en het ses gewere, twee haelgewere, twee handwapens en ‘n rewolwer met die hulp van ‘n breekyster gesteel. Gesteelde goedere, wat huishoudelike items insluit, is in die bakkie van die bejaardes gesit en van die toneel gevlug. Die voertuig is ‘n Mahindra, enkelkajuit, met registrasienommer HXL 158 FS.
Die egpaar het beserings aan hulle koppe en arms opgedoen. Hulle is in ‘n ernstige, maar stabiele toestand na ‘n hospitaal geneem.
Ladybrand-polisie ondersoek ‘n huisroof.
‘n Mannejag om die verdagtes op te spoor, is geloods. Enigiemand met inligting word versoek om speur.kol. Ben Bolsiek by 0824668530 te bel.





