GAUTENG. – Jan en Elna Dhooge, onderskeidelik 75 en 72 jaar oud, is Dinsdagaand tydens ‘n plaasaanval in die Schikfontein-gebied buite Heidelberg beseer.
Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits daar word na sowat vyf verdagtes ná die aanval op die bejaarde egpaar gesoek. Volgens Nevhuhulwi het die verdagtes, vermom met balaklawas, die slagoffers oorval en die huis deursoek. Gelisensieerde vuurwapens, kontant en ‘n voertuig is gesteel. Die voertuig is later verlate op die R23-pad aangetref.
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei om na vore te kom.
Heidelberg Volunteer Medics and First Responders sê in ‘n sosialemediaplasing dié diens het hulle na ‘n plaasaanval gehaas. Met aankoms op die toneel is twee bejaardes aangetref, van wie een verskeie gesigsbeserings gehad het en die ander een ‘n skietwond in die nek opgedoen het. Dié diens en staats- mediese personeel was saam op die toneel, waarna die egpaar vir verdere mediese sorg na ‘n plaaslike hospitaal vervoer is. Volgens die diens was die Heidelberg-polisie saam met veiligheidsmaatskappye en boere van omliggende plase op die toneel.
Bronne: Heidelberg Volunteer Medics and First Responders en SAPD





