OOS-KAAP. – ‘n Bejaarde vrou (84) is Sondagoggend tydens ‘n beweerde huisroof op ‘n plaas buite Willowmore beseer. ‘n Verdagte is Maandag deur die polisie in hegtenis geneem.
Lt.kol. Siphokazi Mawisa sê die bejaarde vrou het omstreeks 06:30 geluide op die dak gehoor. Sy het ondersoek ingestel en ‘n verdagte man in haar kombuis aangetref. Sy het beserings opgedoen toe sy glo gestamp is en geval het. Die verdagte het die telefoonkabels afgesny en met ‘n onbekende bedrag geld van die toneel gevlug.
‘n Dogter van die vrou het haar ma omstreeks 18:00 gevind waar sy steeds op die vloer gelê het.
Die verdagte, wat by die plaashuis van die vrou ingebreek het, is Maandag deur die polisie op De Rust in die Wes-Kaap in hegtenis geneem.
Hy sal Donderdag in die Willowmore-landdroshof verskyn.





