KWAZULU-NATAL. – ‘n Pensioenaris is vanoggend (Vrydag) in ‘n semi-bewustelose toestand in haar woonstel in Phoenix aangetref, nadat sy glo bedwelm en beroof is.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê dié diens is omstreeks 08:40 na Palmford Place in Sunford ontbied toe bekommerde bure onraad vermoed het. Hulle het die woonstel oopgebreek toe hulle nie die vrou kon bereik nie en het haar verward op ’n bank in die sitkamer gevind. Die woonstel is geplunder. Verskeie soorte medikasie is in die kombuis aangetref, alhoewel dit nog nie duidelik is of dit aan die slagoffer behoort het of deur die verdagte agtergelaat is nie.
Rusa sê ’n getuie het vertel dat ’n onbekende vrou Donderdagmiddag die woonstelblok met twee sakke vol onbekende items verlaat het. Weens haar mediese toestand kon die slagoffer nog nie ’n verklaring aflê nie.
Polisie-ondersoeke duur voort.






