KWAZULU-NATAL. – Mziwamandla Ngcobo (79) en Phumzile Rachel Ngcobo (74) is glo Dinsdag deur hulle seun (43) in Thafamasi, Ndwedwe vermoor. Hulle liggame is in ‘n plas bloed aangetref. ‘n Mes en houtstompe wat vermoedelik gebruik is om hulle dood te maak, is ook gekry.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê dié diens het omstreeks 13:30 ‘n oproep van ‘n plaaslike raadslid ontvang. Hy het gebel oor ‘n ouerpaar wat glo vroeër die dag vermoor is, terwyl hulle seun na bewering die bure verhinder het om hulp te verleen. Rusa-beamptes en paramedici is na die toneel ongeveer 33 km van die organisasie se hoofkantoor, waar die seun voor die rondawel aangetref is. Hy is in hegtenis geneem. Die liggame van die ouerpaar was in die rondawel.
Paramedici het die egpaar dood verklaar. Hulle het veelvuldige steekwonde en beserings van stomp voorwerpe opgedoen. Die verdagte is vir selftoegediende steekwonde aan sy nek en maag, in ’n poging om sy eie lewe te neem, behandel. Dit kon nie bevestig word of die verdagte aan enige geestesgesondheidsprobleme ly nie.
Rusa het sensitiewe beeldmateriaal van die toneel teruggehou.





