NOORDWES. – Willie Niemann (71), ‘n wewenaar pensioenaris van Orkney, is vermoor aangetref. Sy bakkie is uitgebrand by Skag 6 met ‘n uitgebrande liggaam gekry. Die liggaam was só erg verbrand dat dit nie onmiddellik uitgeken kon word nie. Niemann se 20-jarige buurman is by ’n plaaslike hospitaal opgespoor en in hegtenis geneem.
Lt.kol. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder, sê volgens inligting is die polisie Woensdagoggend omstreeks 06:00 deur mynveiligheidsdienste van die uitgebrande voertuig in die veld by die skag in kennis gestel. Met verdere ondersoek op die toneel het beamptes die liggaam van ’n man agter in ’n bakkie ontdek.
Tydens ‘n voorlopige ondersoek is die polisie na ’n huis in die omgewing. Die huis was gesluit, maar bloedspore is in die oprit opgemerk wat na ’n naburige huis gelei het. Dit is later bevestig dat die oorledene en die verdagte bure was. Die polisie het toegang tot die buurhuis verkry, waar verskeie items gevind is, insluitend ’n vermeende moordwapen en persoonlike besittings van die oorledene, onder meer sy selfoon.
Die 20-jarige manlike verdagte is later by ’n plaaslike hospitaal opgespoor en in hegtenis geneem. Hy is tans onder polisiebewaking en sal na verwagting in die hof verskyn sodra hy formeel aangekla is. Die polisie ondersoek sake van moord en regsverydeling.





