KWAZULU-NATAL. – ’n 69-jarige vrou is Maandagoggend tydens ’n konfrontasie met ’n pitbull in Montford, Chatsworth, beseer. ‘n Glasdeur het op haar geval toe sy ‘n familiehond van ‘n aanval probeer beskerm het.
PT Alarms sê in ‘n sosialemediaplasing ‘n aanval deur ‘n pitbull is omstreeks 10:00 op Montford-groepe aangemeld, met versoeke vir bystand. PT Alarms het hulle na die toneel gehaas.
Volgens inligting het die vrou onsuksesvol probeer keer dat die pitbull haar eiendom binnegaan. Die hond was glo agter ’n Jack Russell aan. Die vrou is beseer in haar poging om die kleiner hond te beskerm. ‘n Skuifdeur het op haar geval terwyl sy probeer wegkom het. Bure het die lawaai gehoor en hulp verleen.
Die pitbull is later na sy eie erf teruggeneem. Die bejaarde vrou het beserings aan haar rug en arm opgedoen en is op die toneel gestabiliseer voordat sy deur PT Ambulansdiens na Chatsmed-hospitaal vervoer is.
PT Alarms versoek alle troeteldiereienaars om vir almal se veiligheid hulle honde op hulle eie eiendom te hou.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





