MPUMALANGA. – Terwyl die verkragting van minderjariges landwyd onder die loep geneem word, is ‘n man (79) Sondag in Cottondale Trust in Acornhoek op bewering van verkragting van ‘n meisie (14) gearresteer.
Lt.kol. Jabu Ndubane sê die meisie het met haar sibbe in die straat gespeel toe die verdagte haar glo na sy huis geroep en verkrag het. Tydens die insident het ‘n lid van die gemeenskap glo inligting ontvang en is na die verdagte se huis. Hy het aan die deur geklop, maar die verdagte het geweier om die deur oop te maak. ‘n Groot groep van die gemeenskap is na bewering daarna na die verdagte se huis en het geëis dat die deur oopgemaak word. Toe die deur oopgemaak word, is die verdagte glo deur die gemeenskapslede aangerand. Hy is daarna deur die polisie weggeneem.
Die meisie is vir ‘n mediese ondersoek na die hospitaal geneem, waarna ‘n verkragtingsaak oopgemaak is. Die verdagte is gearresteer en diensooreenkomstig aangekla. Hy het Dinsdag op ‘n aanklag van verkragting in die Acornhoek-landdroshof voorgekom.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





