GAUTENG. – Lusizo Mvula Henna (41), ‘n bekende sjef en eienaar van Blaque Olive Private Chefs BK is vir bedrog en geldwassery deur die gespesialiseerde kommersiële misdaadhof gevonnis.
Phindi Mjonondwane, woordvoerder vir die NVG, sê Henna is tot 10 jaar tronkstraf op ses klagtes van bedrog en ses jaar tronkstraf op 14 aanklagte van geldwassery gevonnis.
Henna het onbehoorlike BTW-terugbetalings van altesaam R5.3 m. van die inkomstediens geëis. Hiervan was R3.1 m. aan hom uitbetaal. Hierdie eise het nie in sy bankrekenings as handelsaktiwiteite gewys nie. Die bedrag wat hy ontvang het, is binne 14 dae gewas deur die opbrengs aan familielede en vriende oor te dra.
Mjonondwane sê die hof het bevind hierdie eise is uitsluitlik ingedien om die SAID te bedrieg.
Die SAID het ter verswaring die skade aan die fiskus as gevolg van skemas soos hierdie, verduidelik. Adv. Marius Oosthuizen vir die staat het direkte tronkstraf as gepas beskryf omdat misdade teen die fiskus ‘n direkte impak op dienslewering het. Hy het verder voorgehou ‘n behoorlike vonnis sal die finansiële noteringstatus van die land verbeter.
Die NVG prys adv. Oosthuizen en die ondersoekspan om Henna verantwoordelik te hou omdat hy van die fiskus gesteel het.





