GAUTENG. – Dumakude Mayivuke Ndlovu, Rodney Mutsharini en Maxwell Mloyi het op 18 aanklagte van belastingbedrog van ongeveer R26 m. in die hof verskyn. Ndlovu is ‘n welbekende TV-vervaardiger en sakeman.
Henry Mamothame, woordvoerder van die ondersoekdirektoraat teen misdaad (IDAC) van die NVG, en adv. Sipithi Sibeko, woordvoerder vir die SAID, sê die drie verdagtes het in die Palm Ridge- gespesialiseerde misdaadhof verskyn. Die verdagtes is Maandag gearresteer en formeel aangekla. Mutsharini is ‘n geregistreerde belastingpraktisyn en Mloyi ‘n ongeregistreerde belastingpraktisyn. Die sake hou verband met Ndlovu se persoonlike belasting.
Mutsharini en Mloyi het Maandag vlugtig in die hof voorgekom, waarna die saak tot Dinsdag vir formele borgaansoek uitgestel is. Ndlovu het Dinsdag in die hof verskyn en het vir borg aansoek gedoen.
“Die hof het Ndlovu R100 000 borgtog toegestaan, en Mutsharini en Mloyi elk R50 000, waarna die saak vir verdere ondersoek tot 11 November 2024 uitgestel is. Die hof het beveel Mloyi en Mutsharini moet hul reisdokumente oorhandig en moet elke Maandag by hul naaste polisiestasies aanmeld. Indien hulle buite die landsgrense wil reis, moet hulle ‘n aansoek by die hof indien. Intussen is Ndlovu beveel om elke Maandag of Woensdag by ‘n Sandton-polisiestasie aan te meld. Hy moet die klerk van die hof in kennis stel van sy KwaZulu-Natalse adresverandering en ‘n aansoek by die hof indien sou hy buite die grense van Suid-Afrika wil reis.”
Mamothame en Sibeko sê regter Nugent het aanbeveel ondersoek moet na bewerings van bedrog, korrupsie en verkrygingsonreëlmatighede gedoen word. Die ondersoek het beweerde sameswering tussen die verdagtes ontbloot ná wanvoorstelling van Ndlovu se persoonlike en maatskappy se belastingsake.
“Die ondersoeke het ontdek ‘n maatskappy, Bain and Company, wat deel uitgemaak het van die ondersoeke, is deur die SAID gekontrakteer om dienste te lewer. Hierdie maatskappy het na bewering Ambrobite (Edms) Bpk, nou bekend as Kanoboya Consulting (Edms) Bpk, wat deur Ndlovu besit word, gesubkontrakteer om tussen die tydperk November 2013 tot September 2016 strategiese en projekbestuursdienste te lewer. Dit is egter deur Ndlovu en sy belastingpraktisyn, Maxwell Mloyi, met belastingopgawes wat by die SAID ingedien is, wanvoorgestel. Mloyi het saam met Ndlovu aan die SAID verklaar dat die maatskappy dormant was en dat dit nooit gedurende die belastingtydperk 2013 tot 2017 handel gedryf het nie, wat ‘n finansiële verlies vir die SAID tot gevolg gehad het.”
“Met betrekking tot Ndlovu se persoonlike inkomstebelasting is ontdek hy het saam met Rodney Mutsharini sy persoonlike inkomstebelastingopgawe vir die tydperk 2016 tot 2019 wanvoorgestel. Hulle het sy persoonlike inkomstebelastingopgawe vir die jaar 2020 en 2022 ingedien, maar het nagelaat om ‘n indiening vir die jaar 2021 te doen, wat tot nog ‘n finansiële verlies vir die SAID gelei het.”
Volgens die woordvoerders is die totale finansiële verlies vir die SAID weens hierdie beweerde oortredings op ongeveer R26 m. geskat.