WES-KAAP. – Carlo Hofmeester (34) en Chadwin Isaacs (30), lede van die Fast Guns-bende, is Dinsdag deur die hooggeregshof tot effektiewe lewenslange gevangenisstraf gevonnis. Hulle is vir die moord op Valentino Grootetjie (5) en poging tot moord op Wesley Kok, Olivia Stevens, Natasha Daniels, Leticia Barnes, Crystal Joseph, Derrick Strydom, Gerswin Baars, Brandon Coetzee en Dillon Wentzel gevonnis. Hulle was reeds vir meer as vyf jaar in aanhouding.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits die twee bendelede is op aanklag van die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad vyf jaar tronkstraf, vir die moord op Grootetjie lewenslank, in totaal 90 jaar vir poging tot moord op nege aanklagte, vyf jaar vir die onwettige besit van vuurwapens en drie jaar vir die besit van onwettige ammunisie gevonnis. Die hof het beveel die vonnisse moet gelyktydig uitgedien word.
Leon Snyman, staatsadvokaat, het bewys die twee Fast Guns-bendelede was in dwelmgebiedoorloë met die Mongrels-bende in Lavender Hill en omliggende gebiede betrokke. Op 21 Desember 2019 het lede van die Mongrels-bende by Druryhof 37, Lavender Hill in “hulle gebied” bymekaargekom. Die oorledene en sy ouers het by dié adres gewoon waar hy in die erf gespeel het toe hy in die kop geskiet is en gesterf het.
Kok, ‘n lid van die Mongrels-bende, was die eintlike teiken van die skietery en een van die slagoffers in die poging-tot-moordsake. Patrick Kotze het van ‘n winkel af gekom en gesien Hofmeester kom nader, waarop hy onraad vermoed en die mense op die erf gewaarsku en probeer het om die hek toe te maak. Hofmeester het Kotze gegryp, maar hy het losgeruk en weggehardloop. Kotze het gesien hoe Hofmeester die hek oopmaak en begin skiet. Isaacs het ook die erf binnegegaan en geskiet, voordat albei gevlug het.
Kotze, wat beide die beskuldigdes ken, het in sy getuienis bevestig Hofmeester was op die misdaadtoneel teenwoordig. Stevens en Barnes was by Druryhof 36 en het ook vir Hofmeester as die skieter geïdentifiseer. Hulle het hom gevloek, waarop hy ook na hulle geskiet het. Ballistiese toetsing van bewysstukke van die toneel het bewys twee vuurwapens is tydens die skietery gebruik.
Tydens die verhoor van ses weke het Snyman agt getuies geroep, insluitend die ouers van die oorledene, asook polisiebeamptes en deskundiges. ‘n Verhoor binne ‘n verhoor is gehou waartydens die beskuldigdes se uitdaging teen hulle waarskuwingverklarings onsuksesvol was.
Regter Melanie Holderness het in haar vonnis bevind dat die beskuldigdes geen berou getoon het nie en dat hulle die erns van die misdade geringag het. Geen oorredende redes is gevind om van die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange tronkstraf af te wyk nie. Adv. Nicolette Bell, die provinsiale direkteur van openbare vervolging, sê die saak toon die verwoestende impak van bendegeweld op onskuldige lewens op die Kaapse Vlakte. Sy het benadruk dat elke lewe belangrik is en dat die vervolgingsgesag voortgaan om sulke sake met erns te hanteer.
Die gevonnisde bendelede is ook onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





