‘Bendeleier’ deur minister na ander tronk oorgeplaas

Lees ook :

Foto: Thulani Ndaba

WES-KAAP. – George “Geweld” Thomas (58), die beweerde leier van die 28’s-tronkbende, is deur die minister van korrektiewe dienste, Pieter Groenewald, na ‘n ander fasiliteit in die tronkstelsel oorgeplaas.

Euné Oelofsen, vir die minister, sê die minister het ingegryp om Thomas van die Herlderstroom-gevangenis na ‘n ander fasiliteit te laat oorplaas nadat hy van die Ebongweni-gevangenis op Kokstad na Helderstroom-gevangenis buite Caledon oorgeplaas is. Thomas word tans in Gauteng aangehou.

“Hierdie ingryping het gevolg op oproepe van gemeenskapsleiers weens die hoë risiko wat sy teenwoordigheid moontlik in gemeenskappe van die Wes-Kaap sou inhou.”

Oelofsen sê Thomas is na ‘n alternatiewe fasiliteit met maksimum sekuriteit oorgeplaas. Die departement sal ook ‘n dringende ondersoek instel om die rede vir Thomas se onreëlmatige beweging te identifiseer.

“Met die klem op die behoefte aan gemeenskapsbetrokkenheid, het die minister ook ‘n vergadering met gemeenskapsverteenwoordigers wat deel van die Kaapse Misdaadkrisis-koalisie is, gehad om betrokke te raak by bekommernisse en moontlike ingrypings om die teenwoordigheid van slegte rolspelers in gemeenskappe wat deur bendeverwante geweld geteister word, tot die minimum te beperk.”

“Ons sal op ‘n deurlopende basis saam met gemeenskappe werk om die stelsel te verbeter en om positiewe verandering wat dit vir kwesbare gemeenskappe kan bring, te maksimaliseer,” sê Groenewald.

Thomas is op 3 Junie 2015 tot sewe lewenslange vonnisse en 175 jaar tronkstraf gevonnis in ‘n hofsaak wat vier jaar geduur het. ‘n Aantal van sy makkers is ook swaar gevonnis. Altesaam 166 aanklagte, onder meer moord met voorbedagte rade, poging tot moord, rampokkery, onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en ander bendemisdade, is teen die beskuldigdes in die hof aangehoor.

Altesaam 70 persone het tydens die hofsaak teen die beskuldigdes getuig.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief