GAUTENG. – Die Gautengse departement van gesondheid doen ’n beroep op inwoners om die waarskuwingstekens van ’n beroerte te herken en onmiddellik mediese noodhulp te kry. Die departement waarsku dat vertragings met behandeling tot die dood, permanente gestremdheid en verlies aan onafhanklikheid kan lei. Wêreldberoertedag word op 29 Oktober herdenk met die tema “Elke minuut tel”, wat die belangrikheid van vinnige optrede beklemtoon.
Volgens die Wêreldberoerteorganisasie kan sowat 1,9 miljoen breinselle elke minuut tydens ’n beroerte verlore gaan. Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, sê provinsiale rehabilitasiedata toon dat 32 444 nuwe beroertegevalle en 105 441 opvolggevalle tussen die 2019/20- en 2024/25- finansiële jare aangeteken is. In 2024/25 alleen was daar 6 855 nuwe gevalle en 22 771 opvolggevalle.
Die departement moedig inwoners aan om die FAST-waarskuwingstekens te onthou: ’n gesig wat aan een kant hang, swakheid in een arm en spraakprobleme. Die letter T staan vir tyd en beteken dat nood- mediese hulp onmiddellik ontbied moet word. Ander tekens sluit in skielike gevoelloosheid, verwarring, sigprobleme, verlies aan balans en ’n erge, onverklaarbare hoofpyn. Selfs al verdwyn die simptome, is dringende mediese assessering nodig. Hoë bloeddruk, diabetes, hoë cholesterol, tabakgebruik en fisieke onaktiwiteit is van die risikofaktore. Nood- mediese dienste kan by 112 vanaf ’n selfoon of by 10177 gekontak word.