GAUTENG. – ’n Ethiopiese burger het Vrydag op 12 aanklagte van ontvoering en een aanklag dat hy nie op ‘n polisiebevel gereageer het nie, in die Booysens-landdroshof verskyn.
Die beskuldigde is Dinsdag deur die Valke in Johannesburg in hegtenis geneem. Hy is aanvanklik van mensehandel aangekla nadat 12 halfkaal jong mans by hom aangetref is.
Luidens ‘n verklaring van Valke-woordvoerder, kol. Katlego Mogale, is die saak Donderdag tot Vrydag uitgestel om ‘n Amhariese tolk te bekom. Die saak is Vrydag tot 14 Januarie uitgestel sodat die beskuldigde ’n regsverteenwoordiger kan aanstel en moontlik om borgtogaansoek kan doen.
Mogale sê voorts die 12 jong mans wat saam met die beskuldigde aangetref is, het ook in dieselfde hof verskyn, op aanklagte dat hulle onwettig in die land is. Mediese assessering het bevestig dat die 12 tussen 22 en 33 jaar oud is. Hulle saak is vir moontlike skuldigpleit tot 15 Januarie uitgestel. Almal is steeds in aanhouding.





