GAUTENG. – ‘n Beskuldigde (27) van Atteridgeville, in Pretoria, is vir die verkragting van sy niggie (7) lewenslange tronkstraf opgelê. Hy was op parool nadat hy tronkstraf vir die verkragting van dieselfde slagoffer en haar sussie (10) uitgedien het.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê die beskuldigde se naam sal in die nasionale register vir seksuele oortreders en die nasionale kinderregister aangeteken word. Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Die beskuldigde is in 2017 aan verkragting skuldig bevind en tot vyf jaar direkte tronkstraf gevonnis. Hy het dieselfde slagoffer (vyf ten tyde van die insident) en haar ouer suster (10) verkrag. Hy het slegs twee jaar van sy vonnis uitgedien en is op parool vrygelaat.
Terwyl hy op parool was, is die twee sussies se ma oorlede. Op 30 April 2019 was die beskuldigde vir die begrafnis by die familiehuis in Atteridgeville. Die kind, toe sewe jaar oud, het water by ‘n kraan op die erf gaan haal. Die beskuldigde het haar gegryp, na sy kamer gesleep en verkrag. Sy het die voorval aangemeld, waarna ‘n saak by die polisie oopgemaak is. Op 2 Mei 2019 het die beskuldigde homself aan die polisie oorhandig, waar hy sedertdien in aanhouding was.
“Die beskuldigde het in die hof skuld op die aanklag teen hom ontken. Die staat kon egter sy saak bo redelike twyfel bewys.”
Tydens vonnisoplegging het die beskuldigde deur regsverteenwoordiging gevra die vyf jaar wat hy in die tronk was, moet in ag geneem word.
Staatsadvokaat Dru Ramsamy het egter ‘n lewensvonnis gevra en gesê die beskuldigde se vorige vonnis het hom nie weerhou om dieselfde misdaad weer te pleeg nie. Dit toon minagting van die wet.
“Hy het die kind op ‘n uiters grusame manier geskend terwyl sy oor die heengaan van haar ma gerou het. As ‘n ouer neef was hy veronderstel om die kind te beskerm, maar hy het haar eerder verkrag.”
Mahanjana sê landdros Nosipho Gcawu het tydens vonnisoplegging gesê die beskuldigde het nie berou getoon nie en het nie uit sy vorige vonnis vir dieselfde tipe misdaad geleer nie.
“Wat meer harteloos is, is dat die beskuldigde die klaagster vir die tweede keer op die vooraand van haar ma se begrafnis, wat na bewering deur haar kêrel vermoor is, geskend het.”





