NOORD-KAAP. – Daniel Petrus Brand (83), sy vrou Elizabeth (73) en hulle dogter Elzabie (54) is op Sondag, 26 Julie 2020, op hulle plaas in Hartswater vermoor.
Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder vir die NVG, sê die dogter van die bejaarde egpaar het die betrokke dag uit Kaapstad gebel en geen antwoord op die plaas gekry nie. Toe nog ‘n suster se oproepe onbeantwoord is, is die bure versoek om ‘n welwillendheidsbesoek aan die plaas te bring.
Die huis was geplunder en dit het soos ‘n misdaadtoneel voorgekom, maar die bejaarde ouers en hulle dogter was nie in die huis nie. Waardevolle items, onder andere twee voertuie, is saam met die drie inwoners van die huis vermis. Hartswater-polisie en die boeregemeenskap het na die drie vermiste Brand-gesinslede begin soek. Tydens die polisie se ondersoek is ‘n verdagte gearresteer, waarna die plekke waar die Brands in bosse weggesteek is, uitgewys is. Al drie persone is dood aangetref. Nog verdagtes is later in besit van die voertuig wat aan die Brands behoort, gearresteer. Die verdagtes is vir die moord en roof van die bejaarde egpaar en hulle dogter aangekla.
Donald Seoleseng (25), Tshepo Visagie (43) en Tshepaone Melato (24) is op aanklagte van drie moorde, drie aanklagte van roof met verswarende omstandighede en drie aanklagte van regsverydeling in die Noord-Kaap-hooggeregshof wat in Kimberley sit, skuldig bevind en gevonnis. Realeboga Manyedi (24) en Kgomotso Silvia Mpulwana(48) het vir die staat getuig en was van aanklagte vrygespreek.
Met Manyedi wat vir die staat getuig het, het die hof gehoor wat op die betrokke dag gebeur het. Seoleseng, Visagie, en Melato het by Manyedi, Visagie se jonger broer, se huis aangekom met ‘n Mazda, waarvan die kattebak vol bloed was. Manyedi is deur die drie beveel om die kattebak skoon te maak. Die drie beskuldigdes het selfs teruggegaan na die plaas en die weggesteekte liggame in ‘n poging tot regsverydeling, na ‘n ander plek verskuif.
Seoleseng het uit wettige aanhouding ontsnap, maar is weer aangekeer nadat ‘n familielid die polisie ingelig het waar hy is. Al die beskuldigdes was tot en met vonnisoplegging in aanhouding.
Adéle van Heerden, die senior staatsadvokaat, het geargumenteer die beskuldigdes het ‘n weerlose bejaarde egpaar aangeval. Aangesien die beskuldigdes geweet het daar sou minder verkeer die Sondag wees, was die aanval berekend, wreed en daar is nie aan die lewens van die slagoffers gedink nie. Sy het voorts gesê Seoleseng en Mateo het slegs berou getoon toe hulle agtergekom het hulle kan moontlik vir die res van hulle lewens in die tronk deurbring. Ter strafverswaring vir lewenslange tronkstraf vir elke moordaanklag is die graad van wreedheid van die moorde voorgehou.
Senokoatsane sê Seoleseng, Visagie en Melato is tot 25 jaar direkte tronkstraf op elke aanklag van moord, 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede en 5 jaar vir regsverydeling gevonnis. Seoleseng is ‘n verdere 2 jaar vir ontsnapping uit wettige aanhouding gevonnis. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.







