POSTMASBURG, NOORD-KAAP. – ’n Ambulansbestuurder (34) en ’n pasiënt (38) is Dinsdagoggend op die R385 tussen Postmasburg en Groenwater in ‘n ongeluk dood.
Die privaat ambulans was vanaf Kathu na Kimberley onderweg. ’n Navigator was saam met die vroulike bestuurder en manlike pasiënt in die ambulans ten tyde van die ongeluk.
Volgens sers. Timothy Sam, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, is die bestuurder en die pasiënt op die toneel naby Groenwater dood verklaar.
Hy sê die bestuurder het na bewering beheer oor die ambulans verloor, maar die presiese oorsaak van die ongeluk word nog ondersoek.
Bron: SAPD