KWAZULU-NATAL. – ’n Bestuurder is Donderdagaand in Phoenix, Durban, doodgeskiet terwyl hy paramedici en polisiebeamptes van ’n botsing vertel het. Die skietery het ‘n entjie van die botsingstoneel af ontstaan en was onverwant.
KZN VIP Protection Services sê die bestuurder was by die kruising van Lenham- en Westhamrylaan besig om besonderhede oor die botsing te gee toe hy deur skote getref is. Hy is op die toneel dood. Volgens die veiligheidsdiens het ’n rusie glo sowat 50 tot 60 m van die botsingstoneel uitgebreek en het iemand daarna in die rigting van die straat geskiet. Voorlopige inligting dui daarop dat die rusie onverwant aan die botsing was.
’n Paramedikus wat op die botsingstoneel wou help het ook ‘n skietwond opgedoen terwyl sy tydens die skietery na veiligheid beweeg het. KZN VIP se medici het sowat ses mense met skietwonde behandel. Volgens die veiligheidsdiens dui voorlopige berigte daarop dat een persoon in hegtenis geneem is. Die polisie ondersoek die skietery.


