GAUTENG. – Die Pretoria-hooggeregshof het ‘n bewaringsbevel toegestaan vir ‘n huis ter waarde van R2.2 m. wat in Mei 2022 in Hartbeespoort in Noordwes gekoop is uit fondse van Tarioco (Edms.) Bpk., van wie Louis Liebenberg die stigter is.
‘n Finale verbeurdverklaringsbevel sal volg en wanneer dit toegstaan word, sal die huis op ‘n openbare veiling verkoop word en die opbrengs in die kriminele batesherwinningsrekening van die staat (CARA) inbetaal word. Wins van misdade waarvoor wetlike bevele uitgereik word, word in die rekening gestort.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê die bewaringsbevel vir die huis, wat aan Johannes Jakobus (Hannes) Badenhorst as direkteur van Tarioco en Christelle Badenhorst, sy vrou, behoort en waarin hulle woon, is aan die batebeslagleggingseenheid toegestaan. Met ‘n ondersoek is bevind die huis is deur fondse van Tarioco, wat ‘n deel van die Forever Diamonds and Gold-groepmaatskappye is, aangeskaf. Die huis vorm nie deel van die bates van Tariomix wat deur likwidateurs gekonfiskeer is nie.
Diamantpakkies is vermoedelik deur die sindikaat saam met die FDG-groep aan die publiek, met ‘n belofte aan hoë opbrengste op hul “beleggings”, verkoop. Daar sou in die verkoopwinste gedeel word, maar daar is bevind dit is ‘n bedrogspul, aangesien die diamantpakkies nie bestaan nie. Die publiek se beleggingsgeld is glo eerder gebruik om ‘n myn en eiendom vir die direkteure aan te skaf. Beleggers is met nuwe beleggers wat inkoop se geld betaal, wat op ‘n Ponzi-skema dui.
Mahanjana sê die saak teen Louis Liebenberg, die Badenhorst-egpaar en nege ander beskuldigdes sal weer op 8 Julie in die Bronhorstspruit-landdroshof voorkom.