GAUTENG. – AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ernstige bewerings gemaak dat lede van die polisie moontlik onwettige straatrenne in Pretoria toelaat of selfs beskerm. Frieda Bezuidenhout, die ma van Phillip wat onlangs tydens ‘n straatren in Steve Biko-weg dood is, word deur die eenheid verteenwoordig.
Barry Bateman, woordvoerder vir die privaatvervolgingseenheid, volg dié bewerings ná ’n noodlottige ongeluk op 3 Mei in Steve Biko-weg in Gezina, waar Phillip Bezuidenhout sy lewe verloor het. Hy was ’n passasier in ’n Honda Ballade wat tydens ’n straatren met ’n ander voertuig gebots het. Die betrokke pad is al jare lank bekend vir onwettige straatrenne, wat gereeld groot skares lok en reeds tot verskeie sterftes gelei het. Beeldmateriaal van die ongeluk, wat wyd op sosiale media versprei is, wys hoe die voertuie teen ‘n hoë sneilheid bots.
Verdere beeldmateriaal dui glo daarop dat ’n persoon die bestuurder van die ander voertuig kort ná die ongeluk aangerand het, terwyl polisiebeamptes reeds op die toneel was. Volgens die eenheid is daar aanduidings dat sommige polisiebeamptes moontlik deel vorm van ’n netwerk wat hierdie renne fasiliteer of ten minste nie daarteen optree nie. Bateman meen die beskikbare bewyse dui op ’n gevestigde en georganiseerde subkultuur van straatrenne in die noorde van Pretoria, en dat dringende optrede nodig is om verdere lewensverlies te voorkom.
Advokaat Gerrie Nel, hoof van die eenheid, sê die gebrek aan optrede deur wetstoepassers skep die indruk dat deelnemers geen vrees het vir vervolging nie. Hy waarsku dat die versuim om sulke aktiwiteite te stop, op medepligtigheid kan neerkom.
Die eenheid het die inligting en bewyse aan die SAPD oorhandig en doen ’n beroep op die owerhede om daadwerklik op te tree. Hulle waarsku dat versuim om dit te doen, verdere vermoedens van ’n toesmeerdery kan versterk.
Druk hier om meer te lees en ‘n brief te sien wat deur die privaatvervolgingseenheid aan die polisie geskryf het.

Willie Momberg, die bestuurder van die Honda Ballade





