AMERIKA. – As jy nog nie weet wat tans in Amerika aangaan nie, lees aan.
Duisende mense is in opstand nadat ‘n swart man na bewering deur ‘n wit polisieman versmoor is toe die polisiebeampte sy been teen sy nek gehou het en dood is.
Beeldmateriaal van dié voorval in die deelstaat Minnesota is op kamera vasgevang en is wêreldwyd versprei.
George Floyd (46) se dood het protesaksie teen rassisme in verskeie state en lande laat ontstaan.
Waar New York se strate stil en verlate was, het duisende mense nou hier en in ander deelstate saamgetrek in protes teen rassediskriminasie deur die polisie in Amerika.
Die inperkings wat daargestel is, word nou geïgnoreer en die nasionale wag is in Washington ontplooi om die polisie by te staan. Baie polisiebeamptes landswyd is in die optogte beseer, verskeie polisievoertuie is beskadig en een polisiebeampte in Amerika is dood.
Een betoger is ook vanoggend in Louisville, Kentucky dood nadat die polisie glo geweerskote na die betogers afgevuur het, nadat die betogers eerste op die polisie geskiet het. Nog ‘n man is Vrydag in Detroit dood nadat hy raakgeskiet is.
Verskeie bekendes het op hulle Instagram-rekeninge ‘n beroep gedoen op Amerikaners om saam te staan teen rassisme. Die hutsmerk #blacklivesmatter word gebruik in al die plasings, met verskeie opsies wat mense het om betrokke te raak. Jy kan of deelneem aan ‘n optog of geld skenk vir onder andere om mense wat gedurende die protesaksie in hegtenis geneem is, se borgtog-geld te betaal.
Gwyneth Paltrow het ‘n inskrywing gedoen wat sê #blacklivesmatter en daarby geskryf as iemand wil kommentaar lewer dat “#alllivesmatter”, dan moet jy daaraan dink dat jy dalk reageer vanuit ‘n posisie as ‘n wit bevoordeelde.
“Om te sê #alllivesmatter, ontken jy hoe gevaarlik dit is om as ‘n swart persoon in Amerika te woon. Alle lewens – alle mense, lewe nie in vrees om doodgemaak te word net oor die kleur van hulle vel nie.”
Rachel Elizabeth Cargle het ‘n beroep op wit vroue gedoen om deel te neem aan die protesoptogte omdat die polisie slegs opgelei is om “wit lywe” te beskerm. “Daarom moet wit feministe die voordeel van hulle wit lyf gebruik as ‘n skerm voor die swart lywe om die polisie se geweld af te weer.”
CCN berig 4000 is gisteraand in Amerika se verskeie state in hegtenis geneem.
Derek Chauvin, die offisier wat van Floyd se moord aangekla word, verskyn vandag in die hof in Hennepin, Minnesota.
Chauvin het volgens berigte, terwyl Floyd met sy hande geboei op die grond gelê het, met sy knie op Floyd se nek gedruk. Hy het sy knie vir 8 minute en 46 sekondes daar gehou. Amper drie minute van dié tydperk was Floyd glo bewegingloos. Floyd het na bewering ‘n vervalste $20-noot by ‘n winkel gebruik en is in hegtenis geneem. Optogte teen polisie-diskriminasie en brutaliteit het op 26 Mei uitgebreek. Sedertdien het daar protesaksie in 120 stede in Amerika uitgebreek, wat al hoe meer geweldadig raak, met betogers wat winkelvensters stukkend gooi en ondernemings plunder.
Dis hoe dit in Minnesota lyk: