KWAZULU-NATAL. – ‘n Jong blouaap wat met ‘n wond by ‘n huis in Shadrylaan in La Mercy aangetref en gehelp is, moes van kant gemaak word. Die aap is met ‘n windbuks bo die linkeroog geskiet.
Reaction Unit South Africa sê die inwoner het Woensdag hulp van die Tongaat- operasionele sentrum gevra. Die aap is eers deur reaksiebeamptes by die Rusa-hoofkwartier versorg. Lindy Elmes, ‘n vrywilliger van Monkey Helpline, het die aap Donderdag na ‘n veearts geneem. Daar is bevestig ‘n windbukskoeël het die aap se brein binnegedring.
Rusa-beamptes is later laat weet die aap moes van kant gemaak word.
“Die identiteit van die individu verantwoordelik vir die skietery kon nie vasgestel word nie.”