WES-KAAP. – ‘n Man (48) en ‘n vrou (47) is Dinsdag in Bloubergstrand vir die beweerde seksuele misbruik van hul twee dogters, onderskeidelik drie en agt jaar oud, in hegtenis geneem.
Lt.kol. Amanda van Wyk, nasionale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die verdagtes staar verskeie aanklagte in die gesig wat kinderpornografie, verkragting, seksuele aanranding en seksuele voorbereiding insluit. Die kinders is tydens ‘n polisie-operasie van die nasionale en provinsiale reeks- en elektroniese misdaadondersoekeenheid (SECI) en die departement van maatskaplike ontwikkeling (DSD), wat deur die FBI en Homeland Security Investigations ondersteun is, na ’n plek van veiligheid geneem.
Die verdagtes is by ’n woning opgespoor wat deur ‘n gesamentlike ondersoek geïdentifiseer is. Die Polisie het op verskeie elektroniese toestelle beslag gelê.
Die ondersoek duur voort.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





