VRYSTAAT. – Johannes Conraard Muller (56), ‘n boer van die Oos-Kaap, het op beskuldiging van bedrog in die hof verskyn, nadat hy glo gedurende 2016 sy eie graanstroper op sy plaas in Clocolan aan die brand gesteek het.
Sers. Mahlomola Kareli sê ‘n deurbraak is op die oggend van 31 Maart gemaak, nadat die beweerde bedrogsaak reeds vir verskeie jare ondersoek is. Muller het glo ‘n versekeringsmaatskappy uit ‘n groot bedrag geld bedrieg. Muller het na bewering die stroper aan die brand gesteek en met vals inligting van sy versekeringsmaatskappy geëis. Die eis van R700 000 is aan Muller uitbetaal.
Kareli sê Muller is na ‘n behoorlike ondersoek gearresteer en vir bedrog aangekla. Hy is tydens sy verskyning in die Clocolan-landdroshof op borg van R500 vrygelaat. Muller sal weer op 14 Mei in die hof verskyn.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





