NOORD-KAAP. – ‘n Boer (27) is Dinsdag gewaarsku om in die hof te verskyn, met die opsie van ‘n skulderkenningsboete van R17 500, op aanklag van die oortreding van imigrasiewette, toe sewe ongemagtigde buitelanders naby die Ikapa-myn in Kimberley in sy diens aangetref is.
Sers. Timothy Sam sê die verbode immigrante is tydens ‘n Vala Umgodi-operasie by ‘n voertuigkontrolepunt aangekeer. Die buitelanders is aangehou om deur amptenare van die departement van binnelandse sake se immigrasiedienste verwerk en geverifieer te word, voordat hulle formeel aangekla en aan die hof vir deportasie voorgelê word.
“Die polisie doen ‘n beroep op die publiek om die geldende immigrasiewette en -regulasies na te kom, aangesien dit ‘n misdryf is om ongemagtigde immigrante in diens te neem of te huisves,” het sers. Sam gesê.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





