NOORDWES. – Kobus Basson (50) is Dinsdagoggend 20 Augustus omstreeks 03:00 op ‘n plaas naby Zeerust aangeval. ‘n Man wat deur die polisie ondervra is, is laat gaan.
Brig. Sabata Mokgwabone sê aan Nuusflits die slagoffer het na verdagtes in ‘n beboste area langs die plaas gesoek en is met ‘n skietwond aan sy kop gevind. Hy is vir mediese behandeling na ‘n hospitaal geneem.
“Daar is na bewering deur die verdagtes, wat probeer het om ‘n rugsteunkragopwekker te steel, op die slagoffer geskiet.”
Mokgwabone sê ‘n man wat ondervra is, is weens onvoldoende bewyse wat hom met die insident verbind, vrygelaat.
“Ondersoek deur Zeerust-polisie in die poging-tot-moordsaak, duur voort.”
Volgens inligting op Facebook het plaaswerkers die boer van kabeldiewe by sy hoenderhokke ingelig, waarna hy buitentoe is om ondersoek in te stel. Hy is toe geskiet. Hy sterk tans in ‘n hospitaal aan.
Bronne: SAPD en Facebook inligting van AgriNW





