VRYSTAAT. – Jaco de Villiers, ‘n boer van Senekal, sê vandag (Donderdag) in ‘n verklaring op sosiale media dit is foutief dat daar gesê is dat hy ‘n sakevennoot van die vermeende aanvallers is. Hy ontken ook dat hy in geen dispuut met die vermeende aanvallers betrokke was nie.
“Hiermee bevestig ek, J J de Villiers, dat die boer van Senekal waarna in onlangse mediaberigte verwys word, ek is. Ek wens dit duidelik te stel dat ek, soos foutief in mediaberigte vermeld, nie ’n sakevennoot van enige van die vermeende aanvallers is nie. Ek is gevolglik ook in geen dispuut met die betrokke persone, soos berig, nie. Die motief vir die aanval is tans onbekend aan my. Die regsproses word gerespekteer, en ek sal afwag om te sien wat tydens hofverrigtinge aan die lig kom. Ek spreek my waardering uit teenoor SAPD Senekal vir hul vinnige optrede en die arrestasie van verdagtes. Ek betuig ook my opregte dankbaarheid teenoor my Skepper dat geen van my kleinkinders, wat tydens die voorval direk in lyn van die geweerskote gespeel het, beseer is nie. In teenstelling met berigte, het ek wel beserings opgedoen dit terwyl ek besig is om te herstel na ’n heupoperasie.”
De Villiers bevestig dat alle navrae oor die voorval deur sy regsverteenwoordiger hanteer sal word.
Nuusflits het voorheen berig AO Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, sê die boer was die betrokke dag by sy werkswinkel toe hy ’n wit bakkie by sy plaas sien verbyry het. Kort daarna het hy skote gehoor en dieselfde voertuig gesien wat vinnig wegry. Hy het die bakkie gevolg en die bestuurder as sy sakevennoot van Bethlehem uitgeken. Die verdagte het glo tydens die jaagtog drie keer teen die boer se bakkiedeur gebots, maar die boer het ongedeerd daarvan afgekom. Terug op die plaas het hy ontdek sy hond is doodgeskiet, die trekker se bande is beskadig en sy hooi is aan die brand gesteek. Die polisie sê daar was reeds spanning tussen die twee en die verdagte het die boer glo verlede jaar deur WhatsApp gedreig ná ’n dispuut oor skape wat ingevolge ’n hofbevel verwyder is.





