OOS-KAAP. – Martin Cloete (36) en sy meisie Mavis Myburgh is Saterdagaand in die hoofstraat van Barkly-Oos aangerand.
Thero Wink van die plaaslike tak van TLU SA het met Cloete, ‘n boer, gepraat wat vertel het wat Saterdagaand gebeur het. https://www.tlu.co.za/tlu-sa-veroordeel-brutale-aanval-op-jong-boer-in-barkly-oos/
Cloete vertel vir Wink hy en Myburgh het na bewering in Colestraat gery toe ‘n voertuig uit Greyvensteinstraat kom. Die voertuig het gestop, waarna Cloete van agter daarin vasgery het. Hy het sy venster oopgemaak om met die bestuurder te praat, waarna ‘n persoon van die kroeg af nadergekom het en sy hand deur die venster gedruk het om die deur oop te maak.
Cloete het vir sy veiligheid weggetrek, om die blok gery en teruggekeer om met die ander bestuurder te praat. Hy en sy meisie is begroet deur omstanders wat hulle met bakstene en klippe aangeval het. Die voorruit is aan die bestuurskant getref, waarna Cloete beheer oor sy voertuig verloor en in ‘n palissadeheining vasgery het. Met die agteruitry van die heining af is nog ‘n baksteen, hierdie keer aan die passasierskant, deur die ruit gegooi. Myburgh is deur omstanders uit die voertuig gesleep, maar kon daarin slaag om te ontsnap en na die polisiestasie te hardloop.
Cloete, wat nie so gelukkig was nie, is ook uit die voertuig gesleep en so erg aangerand dat hy volgens hom sy bewussyn verloor het. Hy het eers sy bewussyn in die hospitaal herwin. Sy lewe is deur ‘n polisiebeampte wat aanvanklik gedink het hy is dood, gered. Hy het die polisiebeampte bedank.
Wink sê TLU SA en die plaaslike tak ondersteun Cloete en versoek die polisie om die saak behoorlik te ondersoek, maar ook om na die plofbare situasie in die gemeenskap te kyk. Hy maan die SAPD om te kyk waar hulle optrede of die gebrek daaraan tot die situasie kon bydra.
“Ons sal hierdie saak noukeurig volg en met die relevante owerhede saamwerk om te verseker dat geregtigheid vir Martin Cloete geskied.”
Nuusflits het polisiekommentaar gevra.