MPUMALANGA. – Ernest Nkosi (37) het met behulp van boere in die Belfast-omgewing op aanklag van die besit van ‘n voertuig wat as gekaap aangemeld was in die Belfast-landdroshof verskyn.
Kol. Donald Mdhluli sê Nkosi het ook op aanklag van gewapende roof in dieselfde hof verskyn. ‘n Boer is na bewering Vrydag van sy voertuig en ‘n onbekende bedrag geld op sy plaas in die area beroof. Die boer was glo besig om sy werkers te betaal toe twee verdagtes in twee motors, ‘n Mercedes-Benz en ‘n VW Polo, opgedaag en hom aangeval het. Die boer is glo in ‘n bakkie ingedwing en daar is met hom weggery.
‘n Oplettende boer het die verdagte bakkie opgemerk en dit gevolg terwyl hy hulp van nog boere gevra het. Paaie is blokkeer, wat twee verdagtes gedwing het om die bakkie te los. Hulle het in die Mercedes-Benz gespring om te vlug. Die polisie wat ontbied is, het die Mercedes by ‘n plaas opgemerk. Die Mercedes is deur polisie en boere vasgekeer, waarna die verdagtes te voet gevlug het. Nkosi was glo een van die verdagtes en hy is in hegtenis geneem waar hy in nabygeleë bosse weggekruip het.
Voorlopige ondersoek het aan die lig gebring die Mercedes het ‘n vervalste nommerplaat gehad en is in Mei as gekaap in Verena aangemeld.
Die polisie soek na meer verdagtes en vra diegene met inligting om na vore te kom. Inligting sal vertroulik hanteer word.





