Boeta – Episode 21. Geskryf deur Eric R Kok

Lees ook :

Die polisie het Boeta se ma uitgevra oor waar sy was en of sy iets gesien het. Titus het verduidelik dat sy by Auntie Cynthia gaan kuier het en met die terugkom het sy gesien dat Oom Stoffel se voordeur half oop gestaan het. Sy het in gegaan om ondersoek in te stel en het hom in sy deurmekaar slaapkamer op die vloer gekry. Titus het verskriklik aan die huil begin raak en auntie Cynthia wat nog daar was het haar elke keer suiker water laat drink. 

Boeta het die die hele tyd die polisievrou met die dun neus sit en dop hou. Hy het alreeds vertel dat hy van niks weet want hy was die hele aand saam met Wilson hulle. Later het die polisie gesê dat hulle verder met hulle ondersoek sal voortgaan. 

Boeta sit nou by die kombuis tafel met sy vol bord kos voor hom. Brendan is lankal vas aan die slaap. Die aand se drama het hom uitgeput. Boeta staar na die bord kos. Hoender kerrie en rys. Hy het net een lepel daarvan geëet en al ruik dit lekker is Boeta se eetlus heeltemal weg. 

Sy ma staan nog buite en gesels saam met Oom Jerry wat kamma besorgd kom hoor het hoe dit met hulle gaan. 

Oom Jerry is ‘n ander nuus taak wat weer môre die hele wêreld sal vertel van die voorval. 

Boeta se selfoon lui weer maar hy ignoreer dit. Dis Wilson. 

Boeta dink aan die aand net nadat Leeroy hulle vertel het van sy slim plan. Hoekom het nie net daai tyd al nee gesê nie dan was hy nie nou in die situasie nie. As hy maar net… 

Oom Stoffel is na die ICU toe. Sy lewe hang aan ‘n draadjie het een van die paramedici gesê en as Boeta se ma hom nie gekry het nie dan sou dood gebloei het. 

Boeta sug. Die skuld sit soos ‘n dik bitter klont in sy keel. ‘n klont wat hy nie kan af sluk nie. 

Miskien moet hy homself net oorgee aan die polisie of dalk is dit beter as hy weghardloop. 

Ja. Weghardloop is beter as om tronk toe te gaan of om sy ma teleur te stel. 

Die kombuis klap skielik toe. 

Boeta wip.

Sy ma kom in. 

“Boeta het jy dan nie geëet nie…” sê sy in ‘n sagte stem en kom sit by die tafel. 

“Ai my liewe kind…”

Boeta vermy sy ma se oë. 

Hy kyk af na die lang skeur in bont die tafel doek. 

Skielik sit Titus haar hand op syne. 

“Alles sal regkom. Jy sal sien. Hulle sal daai vuilgoed wat vir oom Stoffel aangeval het vang.”

Moet hy weghardloop of moet hy sy ma sê… 

Wat van Leticia. 

Boeta kyk op na sy ma. Sy lyk moeg. Haar oë is nog rooi. 

“Ma…” begin Boeta en sy hart klop vinniger. Dit voel of sy keel toe trek. Hy moet haar sê. Hy moet. 

“Ja my Boeta?” 

Boeta sluk en lek sy lippe af. 

“Uhm…” 

“Boeta wat is dit?” vra Titus besorgd. 

Boeta huiwer. 

“Ek… Ek hoop oom Stoffel sal orite wees.”

Titus smile floutjies. 

“Hy sal. Die Here is groot.” Titus staan op. 

“Ek gaan slaap. Jy moet iets eet en ook gaan rus.”

Later lê Boeta in sy bed en luister hoe Brendan snork. Hy wens hy kon plekke ruil met hom. Om net vir ten minste een dag onskuldig en on bewus te wees van grootmens probleme. 

Hy moes sy ma alles vertel het miskien sou sy hom vergewe het… 

Boeta draai om en probeer aan die slaap raak. 

‘n pot deksel val met ‘n lawaai op die vloer. Boeta skrik wakker. Hy lê in sy bed, in sy kamer. Sy ma praat met haarself in die kombuis. Brendan verskyn en staan in die deur. 

“Mamie sê jy moet opstaan.” Hy draai om en verdwyn in die gang af. 

Vir die res van die oggend voel Boeta soos ‘n masjien. Sy gedagtes is op ‘n ander plek. Ontbyt het hy af forseer om sy ma gerus te stel en later is hy uit op pad na sy kammakastig werk by die computer shop in die dorp. 

Boeta het het vir ‘n tydjie doelloos gedwaal deur die dorp. 

By die park het hy op ‘n bank gaan sit 

Sy selfoon lui weer. 

Dis Angelo. 

Boeta frons en besluit om te antwoord. 

“Aweh…?” 

“Awe bra. Waar is jy? Kom gou bra, daas ‘n moerse problem hierso…”

Boeta het besluit om nie sy ma te sê nie en die oproep van Angelo klink glad nie goed nie. 

Word Vervolg. 

Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief