“Aweh…?”
“Awe bra. Waar is jy? Kom gou bra, daas ‘n moerse problem hierso…”
Angelo wou nie uitbrei oor wat aangaan nie maar Boeta kon hoor hoedat Wilson en Leeroy in die agtergrond stry oor iets. Hy het besluit om te gaan uit vind wat is fout.
Nou sit hy in die taxi op pad terug.
Elke keer wanneer die taxi stilhou dan dood die enjin en dan moet die drywer eers uitklim met die spanner. Die oumatjie met die wit kop wat voor sit begin om die drywer te koggel.
“Nee boetie sien die krok moet jy maar scrap yardage toe vat, sy go is uit.”
Van die mense in die taxi lag. Die oumatjie vat weer die spanner en hou dit op haar skoot.
“Vandag is ek self ‘n mechanic.”
Boeta kyk uit by die venster en wens dat hulle al Roodepan kon wees.
Die taxi trek weer rukkerig weg.
By die hoek klim hy af en stap haastig na hulle ontmoetingsplek toe. Met die nader kom hoor hy hoe Leeroy en Wilson mekaar vloek. Boeta klim op met die trappe en sien dat die twee met mekaar baklei het. Wilson se t-shirt is geskeer en Leeroy se lip bloei. Angelo staan in die middel. Hulle kyk al drie na Boeta.
“Hey bra kom praat met die ouens hierso.”
Boeta kom nader.
“Wat maak julle?” vra hy.
“Die man blame vir my!” begin Leeroy.
“Hey is jou skuld man!!” onderbreek Wilson hom. Die twee wil weer mekaar bevlieg. Angelo keer weer.
“Boeta praat met ouens. Wilson baklei vir Roy omdat hy daai toppie gesteek het…Nou voel Roy jyt die gattas vertel wat het gebeur.”
Boeta skud sy kop.
“Ek het die gattas niks vertel…”
Angelo sug.
“Sien. Ek het julle gesê Boeta is nie ‘n uit verkoper nie.” sê Wilson.
“Maar.” voeg Boeta by en wag vir die ander drie se aandag.
“Die guilt vreet my op. Sê nou Oom Stoffel gaan dood dan is dit moord.”
“Heh heh bra moet nie so praat nie…”
“Ek praat net feite. Ek is klaar met die nonsens en ek waarsku julle om dieselfde te doen. Vir al jy Willa dink aan jou laaitie.”
Wilson kyk skuldig af na die grond.
Boeta draai om en loop weg.
Hy weet nie wat nou gaan gebeur nie maar wat jy wel weet is dat as Wilson nie gaan wegbreek nie dan hulle vriendskap daarmee heen.
Boeta voel stadig maar seker verlig met elke treë wat hy gee. Hy hoop net dat Oom Stoffel sal herstel.
By die huis kry hy vir Brendan wat van langsaan af kom. Hy is vuil en het in skoolklere op die bure se gras met sy vriend gespeel.
“Kom verby.” sê Boeta ernstig. Brendan hardloop laggend in die huis. Later maak Hy vir hulle toebroodjies en koffie.
So tussen deur ‘n paar happies brood besluit Boeta dat hy vir Leticia ‘n boodskap gaan stuur. Hy wil haar weer sien. Hy moet haar weer sien.
‘… Hey oulik…’
Nee.
‘… Hey sexy…’
Boeta frons. Dit klink te forward. Wilson sou geweet het hoe om die boodskap te begin.
Die kombuis deur gaan skielik oop.
Sy ma verskyn in die deur en frons onmiddellik toe sy hom sien.
“Hello ma…” groet Boeta en staan op om haar te help met die pakkies.
Sy draai weg en plak alles op die tafel neer.
“Boeta Abrahams jy beter vandag vir my die waarheid vertel.”
Boeta skrik.
Wat praat sy ma dan nou. Het sy uitgevind van die inbraak by Oom Stoffel. Hoe? By wie??
Boeta keel voel droog. Die kyk wat sy ma vir hom gee is dodelik.
“Hoe bedoel ma nou?”
“Moenie vir my kom hoe bedoel ma nou nie. Praat!”
Boeta kyk na die oop deur. Miskien moet hy weghardloop.
Wat nou vir Boeta. Het sy ma uitgevind dat hy deel was van die inbraak?
Word vervolg.
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.