Titus is besig om die pot sop te roer. Sy was so opgewerk dat sy in gedagte die pot vleis vol water gegooi het maar toe besluit sy om sommer sop te maak. Nou staan en roer sy die pot vir die afgelope uur.
Wat het vir Boeta besiel om so iets doen. Om vir haar te lieg en waar kry hy al daai geld. Is Boeta besig met drugs of het hy iemand beroof? ‘n tydjie terug is Patricia en haar dogter in hulle se huis aangeval en beroof…
Nee. Titus moenie sulke dinge kom staan en dink nie. Moenie jouself nog meer badluck maak nie.
‘n skielike klop aan die deur onder breek vir Titus. Sy los die pot sop en vee haar hande met die vadoek af.
Met die tweede klop kom Brendon die kombuis ingehardloop reg uit voordeur toe.
“Wantoe gaan jy!?” vra Titus.
Brendon briek.
“Is Boeta Mammie.”
Titus wil skel maar sluk haar woorde terug.
Die arme kind het die hele tyd gehuil nadat Boeta geloop het. Hyt geweier om te aanvaar dat Boeta uit gesit is.
Titus sug en haar kwaai trek verdwyn.
“Gaan sit laat ma kyk wie is dit.”
Brendon gaan sit by die kombuis tafel maar hou sy oë op die deur.
Titus is huiwerig maar skep moed. Sê nou dis Boeta, sal haar hart sag word of sal sy hom nog steeds weg wys?
Die klop kom weer en Titus maak die deur oop.
Sy frons.
“Naand Titus…” groet Oom Jerry. Hy is al in sy slaapklere.
“Naand Jerry.” Titus sê gewoonlik Oom Jerry maar vanaand is sy niks lus vir die ou man se dinge laaikery nie. Hys net weer hier vir nuus.
“Haai jinne Titus. Ek dit lyk dan vir jy en Boeta het gestry…”
Kom Jerry loer nuuskierig in die kombuis.
Titus vou haar arms.
“Ek is seker Oom Jerry het gehoor wat het gebeur.”
“Haai nee Ek kom hoor dan nou reeds by jou die regte storie. Anna sê vir my Boeta is sak en pak hier weg…”
“Kyk hier oom Jerry. Ek isi lus vir skinderstories nie. Nie vanaand nie so draai gerus om en laat jou voetpaadjie vir jou huis toe vat!”
Oom Jerry trek sy mond en kyk verbaas na Titus.
Titus gee hom nie kans om iets te sê nie.
“Goeienaand.”groet sy kortaf en maak die deur in Oom Jerry se gesig toe.
Sy draai om en sien Brendon hou haar die hele tyd dop. Sy oë is blink.
” Mammie waar is Boeta?”
Jason en sy vriende kom vinnig nader.
“Die is mos ‘n sterk man.” sê Jason sarkasties.
“Vanaand gaan ons sien is jy nog so sterk.”
Boeta weet hy is die moeilikheid. Dus of hy hardloop weg of hy staan soos ‘n man en baklei. Vir Jason kan hy enige dag plat slaan maar saam met sy vriende staan hy ‘n klein kans.
Boeta kyk vinnig vir ‘n wegkom kans maar die straat verder af lyk na ‘n doodloop straat.
Jason hulle is ‘n paar treë weg.
Boeta sit sy sakke neer en bal sy vuiste. As hy dan nou moet baklei dan sal hy.
Ewe skielik tref ‘n harde stuk hout hom agter sy kop. Boeta steier vorentoe. Hy val op sy knieë. Die skerp pyn is so erg dat sy oë begin traan. Hy voel met sy hand na waar die plank hom getref het. Iets warm loop langs sy kop af.
Bloed.
Boeta kyk om en sien nog ‘n figuur met ‘n plank. Die een wat hom onkant gevang het.
Boeta spring op en gryp die plank. Die mannetjie probeer keer maar dis te laat. Boeta ruk dit uit sy hand en slaan hom op dieselfde tyd. Hy tref die mannetjie teen sy skouer.
Iemand skop vir Boeta van agter af en hy swaai om. ‘n vuishou tref hom teen sy ken en ‘n harde voorwerp teen sy bors.
Hy probeer koes maar die houe kom van alle rigtings af.
Boeta slaan terug maar vir elke hou wat hy gee kry hy vier terug. Hy verloor sy balans en val agteroor.
“Ouens finish die ding!” skreeu Jason en skop vir Boeta in sy ribbekas.
Jy en sy vriende begin trap en skop vir Boeta.
Sy gesig en klere is later vol bloed. Boeta kan nie meer terug baklei nie.
Hy is moeg en seer.
Vanaand word hy doodgeslaan.
WORD VERVOLG.
Kopiereg © 2019 deur Eric Kok. Teks: Eric Kok. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie [teks, illustrasies, mag op enige manier voortgebring word sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die eienaar van Roodepan Stories, Eric Kok, nie.