GAUTENG. – Emmanuel Mudou (30), ‘n voormalige Bolt-bestuurder, is in die hooggeregshof in Johannesburg aan verkragting van kliënte skuldig bevind en tot twee keer lewenslank en nog 60 jaar in die tronk gevonnis.
Phindi Mjonondwane, woordvoerder vir die NVG, sê die vonnisoplegging is vir vier aanklagte van verkragting, vier ontvoerings en twee van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Mudau het tussen Januarie en Februarie 2022 vroue wat vervoer van Cosmo City na verskeie bestemmings deur die Bolt-toepassing versoek het, geteiken.
Mjonondwane sê sodra die slagoffers in die motor was, het Mudou in plaas daarvan om hulle by hulle bestemmings af te laai hulle na afgesonderde areas geneem waar hulle moes ontklee en verkrag is. Tydens twee aparte insidente het die slagoffers probeer weghardloop, waarna een gesteek en die ander gewurg is om aan sy misdadige eise te voldoen.
Een van die slagoffers het ter strafverswaring getuig en gesê sy leef saam met trauma, wat deur staatsadvokaat Coleen Ryan beaam is. Ryan het aan die hof voorgehou die vroue is vir die res van hulle lewens geskend.
Nadat die vonnis van twee keer lewenslank en nog 60 jaar opgelê is, het die NVG adv. Ryan en sers. Mokwai vir die sukses van die saak geprys. Judin Mbalati en Jeffifer Sibisi, hofvoorbereidingsbeamptes, is vir hul ondersteuning aan die klaagsters bedank.





