ATHENE, GRIEKELAND. – ’n Bom het Vrydagaand naby die kantore van Hellenic Train in Athene, Griekeland, ontplof. Die spoorwegmaatskappy was in die nuus oor die noodlottige treinramp in 2023 waarin verskeie mense hul lewens verloor het.
Lees ook: Dodetal styg tot meer as 200 na dak van nagklub ineenstort
Volgens owerhede is ’n anonieme oproep gemaak aan beide die polisie en die media net voor die ontploffing. Die bom was versteek in ’n rugsak wat met ’n slot aan ’n pilaar buite die maatskappy se gebou vasgemaak was.
Niemand is tydens die aanval beseer nie, maar die omvang van die skade aan die gebou word tans deur owerhede geëvalueer. Die polisie is steeds op die toneel besig met ’n deeglike ondersoek en het die gebied afgesper.
Die motief agter die aanval is nog onbekend. Destyds het twee treine van Hellenic Train – een passasiers- en een vragtrein – per ongeluk op dieselfde spoor beland en in mekaar vasgery. Verskeie mense is dood en minstens 66 is beseer.
Tot op hede is geen verhoordatum vir die saak teen die betrokke partye aangekondig nie.
Die Griekse regering het die voorval veroordeel en onderneem om alles in hul vermoë te doen om die oortreders voor die hof te bring.
Die ondersoek duur voort.
Bronne: BBC, The Sun, Express
Lees ook: Dodetal styg tot meer as 200 na dak van nagklub ineenstort





