Borg vir ‘graaf-moordenaar’ geweier wat glo familie uitwis

Lees ook :

Foto: NVG

GAUTENG. – Romeo Moshe Shibambu (37) van Suurman se aansoek om borgtog is deur die Temba-landdroshof geweier. Hy word van drie graaf-moorde, twee pogings tot moord en een saak van kwaadwillige saakbeskadiging aangekla. Hy het glo ‘n kleuter (3), asook die kleuter se ma en pa, met ‘n graaf doodgeslaan.

Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die beskuldigde se suster het hom op 28 September by sy woning besoek. Sy het ‘n graaf opgemerk en daaroor gevra. Shibambu het na bewering gesê hy “voel lus om te baklei” en dat hy “die geveg sal wen”. Die suster is toe met dieselfde graaf aangerand en weggejaag.

Twee dae later het Shibambu met die graaf na ‘n winkel gestap. Op pad daarheen het hy kinders by die buurman se huis gesien speel. Hy het Kelebogile Neo Gift Baloyi (3) met die graaf aangerand totdat hy aan sy beserings dood is. Rose Baloyi (33), die kleuter se ma, het flou geword toe sy probeer het om hulp te ontbied en is glo ook met die graaf doodgeslaan. Sibusiso Langatshe Baloyi (42), die kind se pa en Rose se man, het probeer ingryp, maar is glo toe ook met die graaf doodgeslaan.

’n Taxibestuurder wat probeer help het, is ook glo met die graaf aangerand. Shibambu het in die taxi geklim en weggery terwyl die taxibestuurder aan die buitekant vasgeklou het. Toe die beskuldigde nie verder kon ry nie, het hy glo uit die taxi geklim en is deur die gemeenskap aangekeer. Die polisie is ontbied, waarna hy in hegtenis geneem en die taxibestuurder na ‘n hospitaal geneem is.

Shibambu het gekies om homself in die hof te verteenwoordig en het aansoek gedoen om borgtog, met die rede dat hy tyd nodig het om vir die verhoor voor te berei. Sharon Nkandimeng, die staatsaanklaer, het die aansoek teengestaan en die getuienis van die ondersoekbeampte gelei. Phalane het getuig dat die beskuldigde ’n vlugrisiko en gevaar vir homself en die gemeenskap is, aangesien hy glo gesê het dat hy selfdood wou pleeg omdat sy “werk klaar is”.

Volgens die hof was dit nie in die belang van geregtigheid om die beskuldigde op borgtog vry te laat nie. Die saak is vir verdere ondersoek tot 27 November uitgestel.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief