MPUMALANGA. – Drie mense is Vrydag dood toe twee bakkies omstreeks 11:30 op die N4 naby Middelburgdam gebots het. Die oorledenes sluit ‘n jong seun en ‘n vrou in.
Moeti Mmusi, woordvoerder vir die departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling het die bestuurder van ’n bakkie wat vanaf Mbombela gery het, na bewering beheer oor die voertuig verloor en in die aankomende verkeersbaan beland. Die bakkie het toe met ’n ander bakkie gebots wat vanaf Emalahleni gekom het.
Drie mense, die manlike bestuurder en twee passasiers, waaronder ’n jong seun en ’n vrou, is op die toneel dood. Twee jong meisies is ernstig beseer, terwyl ’n manlike bestuurder van die ander voertuig en twee passasiers, ’n vrou en ’n jong seun, met ligte beserings na ’n nabygeleë hospitaal geneem is.
’n Ondersoek na die oorsaak van die voorval is aan die gang.





