KLEINMOND, WES-KAAP. – ’n Brand wat vroeër vandag aan die hange van die Kleinmondberge uitgebreek het, is onder beheer gebring.
Volgens die Overstrand-munisipaliteit is noodspanne besig met opruimwerk net agter Overhills.
Helikopters moes ingespan word omdat die brand moeilik vanaf die grond bereik kon word. Die brand het hoog teen die hange in Proteadorp se rigting versprei. Erge rookmis het oor Riemvasmaak gehang.
Kleinmond se brandweerdepartement is deur Bettiesbaai en Pringlebaai se brandweerspanne bygestaan.
Noodspanne sal op bystand bly. Die publiek word aangemoedig om die 24/7-brand-en-reddingsdepartement by 028 312 2400 te kontak indien die brand weer opvlam.
Bronne: Overstrand Munisipaliteit, Overstrand Herald





