EUROPA. – Verskeie mense het in Europa omgekom ná ’n hittegolf met temperature oor 40°C wegholbrande in verskeie lande veroorsaak het.
Lees ook: Verskeie mense dood weens hittegolf in Europa
Waarskuwings is uitgereik vir dele van Italië, die VK, Frankyk, Spanje, Portugal, Griekeland, Duitsland, Albanië, Kroasië, Turkye en Montenegro oor die hittegolf en gepaardgaande brandgevaar.
Owerhede sukkel om brande in Spanje en Portugal te blus. In Albanië het ’n man in ’n brand omgekom.
’n Seun (4) is in Italië dood nadat hy in Sardinië in ’n voertuig gelaat is. ’n Werker by ’n perdestal in Madrid, Spanje, asook ’n seisoenwerker in Lleida is weens die hitte oorlede. In Montenegro is ‘n soldaat oorlede en een is beseer nadat die tenkwa waarmee water aangery is, omgeslaan het.
Meer as 150 veldbrande, wat deur onstuimige winde vererger word, is in Griekeland aangemeld. In Turkye het verskeie brande tot ontruimings gelei. Brande in Albanië en Kroasië het ook ontruimings tot gevolg gehad.
Twee veldbrande het Dinsdag in die VK uitgebreek. Wetenskaplikes het gewaarsku die hittegolwe en brande word deur klimaatsverandering veroorsaak. Dit is die tweede keer hierdie jaar wat ‘n hittegolf in Europa tot brande en sterftes lei.
Bronne: BBC, CBC, The Telegraph





