Brig. Adriaan Jacobus “Attie” Lamprecht (59), hoof van die polisie se Stop Misdaad-oproepsentrum, het die Sherpa Award for Whistleblower Support tydens vanjaar se fluitjieblaser-toekenningsgeleentheid van Public Interest SA ontvang.
Kol. Amanda van Wyk, nasionale polisiewoordvoerder, sê genl Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris, het Lamprecht gelukgewens met die toekenning ter erkenning van sy bydrae tot anonieme misdaadverslagdoening en die beskerming van mense wat misdaad aanmeld.
Lamprecht het 42 jaar diens in die polisie en staan al meer as 30 jaar aan die hoof van die Stop Misdaad-oproepsentrum by 08600 10111, waar lede van die publiek inligting oor misdaad anoniem kan aanmeld. Hy hou ook op nasionale vlak toesig oor die eenheid vir skadelike en okkulte misdade en die Buro vir Vermiste Persone, wat hy in 1994 gestig het. Volgens die polisie het inligting wat deur Stop Misdaad ontvang is, oor die jare tot duisende inhegtenisnemings en die beslaglegging op onwettige goedere en ander misdaadbates ter waarde van honderde miljoene rand bygedra.
Lamprecht dien ook as direkteur van Crime Stoppers International en het voorheen die getuiebeskermingsprogram bestuur toe dit onder die polisie se beheer was. Hy het ’n doktorsgraad in sosiologie.