KWAZULU-NATAL. – ‘n Broer en suster, in hulle 30’s, het Sondag in Charclay, Phoenix, in hulle woonplek gesterf, nadat ‘n selfoon glo ontplof en ‘n brand veroorsaak het.
KZN VIP Protection Services sê na die beweerde ontploffing het die rusbank aan die brand geslaan en die vlamme het vinnig versprei. Die sibbe kon ten spyte van aangewende pogings nie gered word nie. Lede van die gemeenskap en reaksiebeamptes van die diens het die verspreiding van die brand met ‘n tuinslang en nat sand probeer beheer en van die vensters gebreek. Daar is selfs met lere probeer om die sibbe te red, maar vanweë die gevaar van nog lewensverlies kon die gebou nie binnegegaan word nie. Die suster was glo in ‘n kamer en die broer in ‘n badkamer vasgekeer.
Dik rook het die gebou gevul, wat die ontruimingsproses bemoeilik het. Brandweerlede het eers die suster en toe die broer uit die gebou gebring, maar ten spyte van KPR-pogings is beide as gevolg van beserings wat in die brand opgedoen is, dood verklaar.
KZN VIP Protection Services bevestig owerhede ondersoek die oorsaak van die ontploffing, wat tot die brand gelei het.





