VRYSTAAT. – ‘n Man (31) is Saterdag in hegtenis geneem nadat ‘n huishoudelike argument met sy suster oor geld die vorige dag daartoe gelei het dat sy doodgesteek en sy ma beseer is toe sy wou tussenbeide tree.
AO Mmako Mophiring sê die man van Bluegumbosch het na bewering sy suster van diefstal van sy geld beskuldig. Die ma het tussenbeide getree, waartydens die verdagte glo aggressief geraak het en sy suster noodlottig met ‘n mes gewond het. Toe sy ma probeer keer, het hy haar in die voorkop, wang en skouer gesteek. Die suster is met aankoms by die hospitaal dood verklaar, waarna die voorval by die polisie aangemeld is. Die verdagte het gevlug en gaan wegkruip.
Hy is Saterdag deur die polisie opgespoor en in hegtenis geneem. Hy is van moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer, aangekla en sal vandag in die Phuthaditjhaba-landdroshof verskyn.
Die polisie het op die mes wat vermoedelik as die misdaadwapen gebruik is, beslag gelê.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]