LIMPOPO. – Die polisie het Dinsdag ’n 43-jarige manlike buitelandse burger op die R81 naby die Mopani-distrikskantoor in hegtenis geneem. Drie vermeende gesteelde motorfietse en ’n vuurwapen met ammunisie is herwin.
Luidens ’n verklaring deur polisiewoordvoerder, brig. Hlulani Mashaba, het die polisie inligting ontvang oor ’n voertuig wat vermoedelik gesteelde motorfietse vervoer. ’n Gekoördineerde operasie deur verskeie polisie-eenhede en private veiligheidsdienste is van stapel gestuur, waarna die geïdentifiseerde bakkie onderskep is. Tydens die deursoeking is drie gestroopte motorfietse in die laaigedeelte van die voertuig gevind, asook ’n pistool en ammunisie.
Die verdagte sal na verwagting op aanklagte van die besit van vermeende gesteelde eiendom en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie in die Giyani-landdroshof verskyn.








